As die donker my kom haal
En asemhaal moeilik raak
As ek gestroop en kaal,
dink niks maak meer saak.
Sal jy my kan leer leef
na ek vir so lank nie wou?
Of sal ek vir altyd streef
na alles behalwe 'n bestaan bou?
Jy is waardig. Ek weet hoe hard jy teen die teendeel gedagtes in jou kop baklei.
So hou aan veg.
Jy is dit aan jouself verskuldig om uit te vind dat lewe die moeite werd is.
In al die vol vertrekke
dwaal my oë
doelloos
opsoek na jou.
In die wêreld binne my bly almal vreemdelinge.
Want ek het agtergebly
in die straat
daar waar jou kar se ligte finaal om die draai verdwyn het.
Nou is gesprekke woorde sonder klanke.
Als sinneloos.
Voor jou kon ek nie glo in hoop nie, ek was te bang. Want die lewe het my keer op keer laat opkyk na 'n sterrelose hemel en in die donker laat struikel oor my stukkende drome.
Saam met jou weet ek nou daar is 'n lig aan die einde van dit alles.
Jy het nog net my donker kant beleef.
Hoe wens ek nie ek kon vir jou kaalvoet dans in die reën soos toe ek 18 was en nog halfpad heel was nie.
Dan sou jy kon hoor hoe my lag geklink het.
En geweet het hoe my lippe geproe het sonder die sout van trane.
Vanaand brand die verlange na jou in my hart weer vel.
Dans droombeelde van verlore oomblikke in my gedagtes rondomtalie.
Op die note van gister se onthou.
Ek het alles wat ons was
verbrand tot as
En dit in die see gestrooi
Met die weggooi
Het my vingers gebewe
maar ek wou net so graag lewe
sonder my bestaan
wat gestagneer het in jou wentelbaan
Ek wou net weer wees
ek wou net die ek wees
sonder jou.
Jy het my gisteraand vertel hoe die harde woorde tussen jou ma en pa jou kleintyd uitmekaar geruk het
en jou tyd vir stukke optel min was in 'n huis vol gebreekte mense. "Hulle het iewers gedurende hulle weerdersydse vernietiging my menswees verwoes."